Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

Thula-thula (afr) (16 page)

BOOK: Thula-thula (afr)
3.09Mb size Format: txt, pdf, ePub
ads

Kort gelede was daar ’n waterlek in die lapa se grasdak. Die vorige week het ’n donderstorm uitgesak

ná tennis. Verleentheid toe die water op die lasagne drup. Vanweë ligadag was daar nie die volgende

week tennis nie. Toe besluit Abel om die lekplek reg te maak. Klaar daarmee, haal hy die brandewyn uit.

Daar is voëlluise op sy kop, sê hy, dit kom uit die grasdak. Hy krap en krap, raak dronker.

Haar ma sê sy gaan blomme op Anthonie se graf sit, want sy verlang na haar kind.

Hulle veg oor Anthonie. Ouma Strydom se robynring wat haar ma laat wegraak het. Abel sê die

voëlluise en Susarah dryf hom malhuis toe.

“Kom sit op die Morrisstoel, dan kyk ek onder die kombuis se neonlig wat op jou kop aangaan,” sê

haar ma stroperig.

Abel sit slapkaak van dronkheid. Sy gaan soek kastig vrugtesap in die yskas. Hier kom ’n konsert wat

sy nie wil

mis nie.

“Abel, dit wemel op jou kop!” Haar ma knipoog na haar.

“Môre is ek op konsistoriediens.” Sleeptong. “Dóén iets! Moenie jou onnosel hou nie! Dis vir jóú dat

ek in die grasdak …”

Tien minute later slaap hy dooddronk op die Morrisstoel. Haar ma masseer sy kop met mayonnaise.

Plak nog en nog by. Vorm sy hare in punte dat hy soos die duiwel lyk. Hulle giggel. Toe hy soos Medusa

lyk, druk sy die afdrooglap voor haar mond.

Slaaptyd skuif sy Ouma Strydom se spieëlkas voor die deur, al weet sy hy sal dit wegstoot. Die

mensdom daarbuite sal nooit glo watter absurde goed in Kiepersolkloof se huis gebeur nie. Susarah smeer

jeukpoeier op die toiletring. Gooi sout in die suikerpot. Sit ’n hoenderpoot onder Abel se kussing en maak

hom wys hy is getoor. Mors kastig per ongeluk warm appelkooskonfyt op sy nuwe Landbouweekblad.

Disfunksioneel, dís wat hulle is. ’n Gesin waarvan die rolspelle drasties en tragies skeefgeloop het.

Abel, die ryk gemeenskapsleier. Abel, die gewetenlose recce. Abel, wysgemaakte moordenaar van sy

kind. Abel, die seuntjie wat naarstiglik na moederwarmte soek. Abel, wat sy verterende vuur by

Gertruidatjie aan die brand hou.

Susarah met die baie gesigte.

Sy, Gertruida, wat oortuig is sy is die gom wat alles aanmekaarhou. Ongeag die prys. Gertruida wat

Abel in sy slaap wil doodskiet. Gertruida wat op ’n makabere manier verknog is aan haar pá; wat nie kan

bekostig om die goedheid wat hy aan haar uitdeel, te verloor nie.

En die wêreld sien niks. Omdat hulle moeiteloos maskers ruil. Skynbaar kom selfs God dit nie agter

nie.

Daardie nag slaap Abel met ’n mayonnaise-kop waaroor ’n stortpet getrek is. Só ontwaak hy toe

Susarah al doenig is met brekfiswors. sy sit in die ontbythoekie en eet graanvlokkies met water en suiker.

Skuif die pot pronkertjies voor haar in sodat hy nie moet sien hoe sy grinnik nie.

“Watse kak is dit hierdie?” Hy swaai die besmeerde stortpet rond. “Jy weet goed ek is op

konsistoriediens en ek moet vroeg …”

“jy’t gevra ek moet die luise …”

Slaan haar met die stortpet deur die gesig. Die spatsels sis in die worspan. “Is jy bedônnerd om my

kop vol mayonnaise te smeer?” Hy slaan weer na haar ma met die stortpet. “Ek stink dônnerswil

asynsuur!”

“Maar, Abel, jy’t gesê enige plan is reg, solank …”

Sy kyk weg en sit ’n lepel pap in haar mond, toe hoor sy die slag. Haar ma lê op die wit teëlvloer.

Abel skop in haar ribbes. “Dônnerse pateet!” en hy skop weer. Haar ma snak. “Staan op jou pote!” Haar

ma kom op haar knieë. Hy skop haar van agter tussen die bene. Sy val op haar gesig op die teëls; daar

loop ’n geel plas onder haar uit. “Staan op!”

Sy sien hy gaan weer skop.

Hoe sy so gou uit die eethoekie gekom het, weet sy nie. Voor hy kan skop, vang sy sy voet en ruk hom

van balans af. Hy lê met sy lewer-oë en mayonnaise-kop op die vloer. Sy is die buffer tussen hulle; sy hou

sy voet vas. “Staan op, Ma, en sluit Ma in die badkamer toe.” Hy ruk sy voet. Sy hóú. “Ek sal Ma kom

roep as Ma kan uitkom.” Draai sy enkel. “Vanoggend gee ek hierdie vark ’n moerse pak.” Haar ma druk

haar kneukels in haar mond en huil.

“Jý? Gaan jy jou hande vir my, jou eie pa, lig?”

“As dit nodig is, ja. Loop, Ma.”

Haar lyf is sterk. Nie so sterk soos syne nie, maar nogtans. Hy is onvas, dis in haar guns. Haar ma loop

kromskouer uit. Hy ruk sy voet. Uit die hoek van haar oog sien sy die vlieëspuitgoed op die vensterbank

by die stoof. Gryp die soom van sy pajamabroekspyp in ’n knoop vas; gryp die spuitgoed met haar ander

hand. Spuit die blik leeg op hom. Geel druppels aan sy ken en oorlelle. Hy hoes. As hy sy mond oopmaak

om te skel, spuit sy na sy mond.

“Slaan of skop weer aan Ma, ek sweer ek gaan polisie toe. Oor Ma, én oor my.”

“Los my broek, of ek …”

“Of jy wát? Oppas dat ek vanoggend by die kerk instap en voor almal vertel hoe jy Ma skop en slaan!

Hoe jy my pregnant gemaak het!”

Sy laat val sy voet op die vloer. Loop telefoon toe en bel die dominee om te sê haar pa kan dit nie

maak vir kerk nie; hy is by ’n Bonsmarakoei wat sukkel om te kalf. Toe gaan haal sy haar ma uit die

badkamer.

“Gertruida, ek …?”

“Net Ma sal weet hoekom Ma by hom bly. Ek is spyt ek het nie sy harsings met sy eie .303 weggeblaas

nie.”

“Ek ook, my kind.”

Weke lank het hy nie met haar gepraat nie. Salige nagvrede.

En weke aaneen het sy haar ma hoor sê: Ek ook, my kind.

Oor die loop van twee-en-twintig jaar was dit die naaste wat Susarah ooit aan ’n bekentenis, of

erkentenis, gekom het.

Sy gooi die bottel mayonnaise stukkend teen die onderste trap. Laat die inhoud van die bad oor die muur

stort.

Al is dit nie Pase nie, gaan sy môre ’n sandkruis trek en daarby huil.

Later hou sy op tel hoeveel baddens sy uitsleep. Pottekas. Messelaai. Koekpanne, plastiekhouers.

Rooi-en-groen kookgereedskap. Afdroogdoeke, tafeldoeke, plekmatjies, skinkbordlappe. Eetstel,

glasbakke, lampe, blompotte, kershouers. Alles wat kan breek, gooi sy teen die sonkamer se buitemuur.

Nuwe huisgoed sal ’n seën wees.

“Jy is goed nagelaat,” het die prokureur gefluister by die begrafnistee. “Volgende week as dinge rustig

is, sal ek uitry Kiepersolkloof toe en alles mooi verduidelik.” Amper asof sy nie self ’n testament kan lees

nie. “Bel as jy ’n kontantjie nodig het.”

Niemand hoef te weet van die geld in die kliphuis nie.

Nog uitgooi. Blikkieskos. Waskamer toe, sy sal dit by Andrea-hulle gaan aflaai.

Rye inlêgoed in die spens. Kerrievis, olywe, kwepers, kappersade. Stringe eerste pryse wat Susarah

by die VLV verower het vir haar handewerk.

Al die bottels verskerf teen die sonkamermuur. Voor sy ingaan, drink sy van die tee. Rus by die tenk.

Haar skouer is seer van sukkel met die koevoet. Sy moet geordend dink. Maandag wil sy die bouer op die

dorp bel, hoor of hy ’n span kan stuur. Messelaar, skrynwerker, verwers. Die oopdraaideurknippe moet

vervang word met afdrukknippe. Die vloere moet geskuur en vernis word. En sy wil die trap afgebreek en

nuut ontwerp hê.

Volgende week kan sy en Mabel grootdorp toe ry. Skóón huisgoed uitsoek waarvoor sy nie gril nie.

Sodat sy ’n ry deure agter haar kan sluit.

Terwyl sy die boksvrieskas uitpak, slaan die ganghorlosie vyfuur. Sy hoor ’n ryding en vat haar .22 agter

die kombuisdeur. Daar is vyf patrone in die magasyn. Wie ook al by die hek is, moet weet sy sal uit die

heup op vyftig tree reg langs sy kleintoontjie vasskiet.

Abel het haar goeie dinge ook geleer. Messel. Water lei. Sweis. Beeswerk. Skiet, met skerpskutter-

presisie. Die windbuks. Die .22. Die .303.

Sy herroep ’n sonnige dag toe sy en haar pa vygieboskamp toe is met die skietgoed en ’n piekniekmandjie.

Druk die kolf teen jou regterskouer, Truia. Ontspan. Sit jou linkerhand voor om die geweerhout. Sien

jy die mikkie in die visier? Sien jy die korrel, dit lyk soos ’n pilaartjie? Goed. Jy gaan skiet na die blik

op die heiningpaal. Kry die punt van die pilaartjie op die visier se mikkie … Reg? Kry die punt van die

pilaartjie op die blik … Reg? Sit jou vinger op die sneller; moenie aftrek nie. Lê botstil … Onthou, mens

trék nie ’n sneller nie. Mens ráák net daaraan. Moenie jou oë knip nie. Voor jy skiet, maak seker die

korrellyn is reg: blik, pilaartjie, mikkie.

Die blik tuimel saam met die fluitgeluid. Iets in jou borskas word groot en bly.

Jy ís lief vir jou pa.

Dis lekker saam met hom in die son by die vygieboskamp. Jy het die blik al twintig keer raak geskiet.

Net twee kere mis. Netnou gaan julle deur die rooigras loop en koffie drink onder die olienhout.

Frikkadelle en vetkoek met bloekomheuning eet wat jou ma ingepak het. Jy wens julle hoef nooit huis toe

te gaan nie.

Dit maak jou bly as hy op ’n ander dag sê julle gaan in die fonteinkamp onder ’n bakkrans

skaapstertjies braai. Jy hang aan sy lippe as hy vertel van die Boesmantekeninge in die vlermuisgrot. Hy

sê op ’n mooiweerdag moet julle koffie en oondbroodjies inpak, dan klim julle soontoe en hy sal jou wys

waar Khoisanmense bokkies en maantjies met bessiesap op die grotwande geteken het.

Planttyd sit jy op sy skoot en hou die John Deere se stuurwiel vas; julle ploeg die pampoenland.

Oestyd sê hy dis die grootste pampoene wat nog op Kiepersolkloof gegroei het, omdat j´y so mooi

geploeg het.

Jy hét jou pa lief. Liewer as die liefste iets op aarde.

Die ryding is naby. Vyf patrone is genoeg. Sy los die boksvrieskas oop. Staan kaalvoet in die oranjegeel

middaglig op die trap met die .22, geweerloop na onder gerig. Die hekbord spel haar instruksie en

waarskuwing onverbiddelik uit.

Die bakkie stop by die hek. Dis Tannie Magriet. Sy maak die .22 teen die trappilaar staan en stap aan

hek toe.

“Gertruida, ek bel en bel, maar hier’s nooit antwoord nie. Mabel sê jy ís hier, maar sy mag nie werf

toe kom nie. Braham soek jou ook. Hy sê jy moet hom terugbel, anders ry hy hiernatoe. Nou kom kyk ek

net of alles reg is.”

“Alles is reg hier, dankie, Tannie Magriet.”

“En dié bord, Gertruida?”

“Ek wil alleen wees, Tannie Magriet, vir lank.”

Tannie Magriet kyk na die chaos in die voortuin. Sodat sy ongemaklik voel, asof sy Tannie Magriet ’n

antwoord skuld. “Ek maak bietjie skoon …”

“Dis reg so, Gertruida.” Sy maak die bakkiedeur oop. “Gee ’n luitjie as daar iets is waarmee ons kan

help.”

Lank ná Tannie Magriet weg is, leun sy op die koue raam van die hek. Luister na die kolganse se

rasperroepe. Verlang na Braham. Hy het in die Afrikaansklas gesê die berggans waaroor Boerneef dig, is

’n gewone kolgans. Heilige voël vir die antieke Egiptenare; vertrappende plaag as hulle by koringlande

invaar. Selfde voël; verskillende persepsies. Daarom is dit nie noodwendig dat ’n gedig eenders

geïnterpreteer word deur individue nie. Maar die mooiste iets wat hy van die berggans gesê het, is dat ’n

berggans monogaam is, hy neem slegs een wyfie per broeiseisoen.

Sy het gewens sy is ’n bergganswyfie. En hy haar mannetjie. Dan sou hulle saam wegvlieg na ’n ver

rivier. Sy laat sak haar voorkop op haar arms; prewel die woorde asof sy dit gister uit sy mond gehoor

het:

Die berggans het ’n veer laat val

van die hoogste krans by Woeperdal

my hart staan tuit al meer en meer

ek stuur vir jou die berggansveer

mits dese wil ek vir jou sê

hoe diep my liefde vir jou lê.

Daardie naweek het sy ’n borsveertjie opgetel en dit die Maandag voor skool op sy klaskamertafel

neergesit.

Dis séér om nie liefgehê te word nie. Nie deur jou pa of jou ma, of jou maats nie. Of deur iemand vir

wie jy ’n borsveertjie opgetel het nie.

In die kouerwordende middag wens sy sy kon die tyd terugdraai tot in haar graadelfjaar. Dan sou sy

dadelik vir haar ma-hulle gesê het sy is swanger. ’n Aborsie kry, en onherstelbare skade aan haar siel

verhoed.

Sy was agtien en in graad elf, ’n vernedering om so oud te wees in graad elf. Twee keer gedruip. Sub A

en standerd ses. Die rapport het gesê sy voldoen nie aan die slaagvereistes nie en moet die jaar herhaal.

Dis hoekom sy die oudste in die klas was. Behalwe dat sy die oudste was, was sy die maerste in die klas,

en soms die tweede vetste. Andrea was áltyd die vetste.

Soms wóú sy vet en lelik en sweterig wees. In die hoop Abel gril vir haar. Dan het sy gevreet soos

Susarah, maar nie maagwerkpille gedrink nie. Tjoklits ingestop tot haar vel vol puisies is. Tuinbome

gesnoei; die takke met die trekker weggesleep. Met Bamba in die veld gehardloop. En ongebad gaan

slaap om aspris te stink.

Ander kere wóú sy maer en mooi wees. Dan het sy ophou eet, van water en appels geleef. In die berge

rondgeklouter; heen en weer deur die rivier geswem om kilojoules te verbrand. Haar soms vergryp van

honger en agterna haar vinger in haar keel gedruk.

Sedert die begin van graad tien wou sy permanent die maerste en mooiste wees. Vir die nuwe

Afrikaansonderwyser. Daar was niks macho aan hom nie. Dra bril. Kleinerig van postuur; middelmatige

lengte. Die eerste dag toe hy tydens saalbyeenkoms bekend gestel is as Meneer Fourie het hy ’n

donkerblou tweedbaadjie gedra, ietwat strak.

Tog het hy haar aangegryp. Nog meer só toe sy in die Afrikaansklas agterkom hy het ook ’n slag met

woorde, meer as enige Afrikaansonderwyser wat sy al gehad het. Hy kon ’n woord laat sing, laat klink,

laat nadraai. Afrikaans het ánders geklink uit sy mond.

Eendag as sy klaar is met matriek, het sy besluit, moet hy haar nie as ’n potjierol onthou nie. Van haar

BOOK: Thula-thula (afr)
3.09Mb size Format: txt, pdf, ePub
ads

Other books

Look After Us by Elena Matthews
The Ranger's Rodeo Rebel by Pamela Britton
Por el camino de Swann by Marcel Proust
Savor by Duncan, Megan
A Lotus For Miss Quon by James Hadley Chase
A Duke in Danger by Barbara Cartland